Share This Post

Aktiwiteite vir Menseregtedag

Aktiwiteite vir Menseregtedag

Menseregtedag word elke jaar op 21 Maart gevier. Dis ’n uitstekende geleentheid om saam met jou klas na te dink oor wat menseregte is en om jou leerders te help om dit beter te verstaan. 

Volgens die Verenigde Nasies is menseregte regte wat aan alle mense behoort, ongeag ras, geslag, nasionaliteit, etnisiteit, taal, geloof of enige ander status. Menseregte sluit in die reg op lewe en vryheid, vryheid van slawerny en marteling, vryheid van opinie en uitdrukking, die reg op werk en opvoeding, en nog vele meer. Elke mens, sonder uitsondering, is geregtig op hierdie basiese menseregte. Dis nogal ’n mondvol, maar die betekenis is duidelik genoeg!

Hoe kan jy hierdie dag gebruik om vir jou leerders ’n waardevolle les of twee te leer en die dag gedenkwaardig te maak? Ons het ’n paar idees bymekaargesit om jou kreatiwiteit ’n hupstootjie te gee. Geniet dit!

Doen ’n anti-boelie-aktiwiteit 

Afknouery skend leerders se reg op veiligheid. Menseregtedag is ’n gulde geleentheid om oor boelies en afknouery te gesels. Begin ’n gesprek deur jou leerders te vra of hulle dink woorde kan soos klippe wees – en of “woordklippe” kan seermaak? Gesels kortliks oor hulle antwoorde. 

Doen dan die volgende oefening:

  • Gee vir elke leerder ’n stuk grys papier om ’n “klip” te maak. 
  • Laat elkeen op sy klip iets skryf wat ’n ander mens kan seermaak of laat sleg voel. Jonger leerders kan ’n prentjie teken.
  • Laat hulle dan die papier opfrommel en weer probeer platstryk. 
  • Ontdekking: hulle kan nie al die kreukels uitstryk nie!
  • Verduidelik nou dat dit presies is hoe ’n mens nooit heeltemal die seer van ’n gespot en gekoggel kan wegneem nie. 

Gesels oor hoe afknouery ons eie menseregte skend – en hoe ’n mens kan keer dat ander mense afgeknou word. 

Die liefdesweb

Hierdie aktiwiteit illustreer hoe ons deur liefde en respek vir mekaar se regte aan mekaar verbind word. Volg die volgende stappe saam met jou leerders: 

  • Sit in ’n kring. 
  • Neem ’n bol wol en hou die een punt vas. Vra die persoon wat die bol wol vashou om die sin te voltooi: “Om vir iemand lief te wees beteken …”
  • Laat die spreker nou die bol wol vir ’n volgende leerder gooi, sonder om die punt te los. Die volgende leerder voltooi weer die sin. 
  • Hou aan om dit te doen tot elkeen ’n beurt gehad het. Kyk net die pragtige wol-web wat julle gemaak het!
  • Vra nou vir die leerders hoe ’n mens ’n verhouding kan beskadig of beëindig. Sny ’n stukkie van die web los ná elke antwoord. 
  • Die hele web word stukkie vir stukkie verwoes. 

Hierdie oefening help leerders om die belang van onderlinge verhoudings te verstaan en lê begrip vas vir hoe elkeen van ons verantwoordelik is om goeie verhoudings in stand te hou. 

Menseregte-duif

’n Fantastiese aktiwiteit om met kleintjies te doen, omdat die hele klas die kans kry om saam te werk aan een groot projek! 

  • Knip ’n eenvoudige (maar groot) silhoeët van ’n duif uit papier. 
  • Knip nou vir elke leerder ’n veer uit papier.
  • Laat die leerders hulle vere op enige manier van hulle keuse versier. 
  • Skryf ’n mensereg op elke veer. 
  • Plak nou al die vere op die duif. 

Hierdie aktiwiteit benadruk hoe eenheid bevorder word deur mekaar se individuele regte te respekteer. 

Bespreek basiese kinderregte

Soos ons almal weet, is daar baie kinders wie se basiese menseregte nié erken word nie. Menseregtedag is ’n uitstekende geleentheid om jou leerders bewus te maak van hulle eie voorregte, en die feit dat daar soveel kinders wêreldwyd is wat hartseer genoeg nié hierdie voorregte geniet nie. 

Hier is ’n lys van ’n paar basiese kinderregte om jou eie geheue te verfris: 

  • Elke kind het die reg op ’n naam.
  • Elke kind het die reg tot ’n woonplek. 
  • Kinders behoort in ’n liefdevolle, warm en veilige omgewing groot te word. 
  • Kinders behoort nie voor ’n sekere ouderdom te werk nie. 
  • Kinders behoort nie geslaan of mishandel te word nie. 
  • Alle kinders is geregtig op versorging wanneer hulle siek is. 
  • Gestremde kinders het die reg op spesiale behandeling en opvoeding. 
  • Kinders behoort nie in oorlogstyd die wapen op te neem nie. 
  • Alle kinders het die reg tot gratis onderrig. 
  • Kinders behoort nie gearresteer of in die tronk gegooi te word nie. 
  • Alle kinders het die reg tot genoeg kos om te eet. 

Hierdie is maar net enkele idees om jou eie gedagtes rondom basiese menseregte aan die gang te sit. Geniet dit om menseregte saam met jou leerders te verken, en om mekaar te waardeer en te respekteer ongeag die verskille tussen julle. 

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.